So sit ek en my sus een middag op ‘n kombers onder die krom koelteboom in ons kompleks en sy sug asof daar ‘n klip op haar bors sit. Dit was ‘n bederf-kuiertjie want sy was naby my vir ‘n partytjie, so ons moes gou maak om al ons praat in te kry tussen kinders en roomys en miere en karretjies teen die kop.  Haar kleinste is by pappa by die huis want sy is siek en haar krulkoppie lê bo-op haar rug en ‘rangskik’ (trek) haar hare.

Die lysie wat so swaar op haar rus en wat toe skielik oor haar lippe spoel, begin met: “Ek voel net sleg omdat…” en dan “en, ek voel skuldig omdat…” en loop oor in: “ek wens net…” Al haar bekommernisse torring om die feit dat sy die kleintjie alleen moes los en dat die krulkoppie oormoeg is en per ongeluk water uit ‘n ou bottel gedrink het. 

Terwyl sy praat voel ek met my hand oor my kleinste se voorkop en ek sit en wonder waar sy koors dan vandaan gekom het? Dalk moes hy nie gister geswem het nie? Of dalk het ek hom te vinnig van die kortisoon afgehaal? Of het hy dalk vanoggend te veel water gesluk in die swembad?

Ek begin vir haar preek dat sy nie so moet skuldig voel nie en dat pa net so goed na kleinding kan kyk, terwyl ek besef dat daar ‘n groter problem is as wat ek of sy vandag op die grasperk kan uitpluis.

Dis soms asof ons as Ma’s ‘n swart kanker-kol van skuld het wat elke keer as ons gelukkig is, in ons gewetes verskyn soos ‘n sigaretbrand op ‘n koerant. Net lank genoeg om seker te maak dat ons rus verskroei word.

En oor snert. Sit ons lekker saam vriendinne by ‘n speelplek terwyl die kinders tussen ons speel, dink ons aan die feit dat ons kroos nie genoeg groente inkry soos Laetitia sin nie. Is die kinders vanaand uiteindelik aan die slaap, voel ons skuldig oor die kere wat ons vandag daai selfde slapende engeltjies so verwens, gedreig en verskree het. Gaan Boetie die eerste keer skool toe sit ons en huil oor ons sy tyd by die huis so omgewens het en nie genoeg voorgrond-agtergrond oefeninge met hom gedoen het nie.

Iemand het eendag gese: “‘n Ma hou eers op skuldig voel oor haar kinders die dag wat sy doodgaan.”

Maar as dit ons so verwoes en ons ma-wees so versuur, hoekom doen ons dit? Ek glo die Liewe Heer het in elke ma die onlosmaaklike begeerte ingeweef om die beste vir hulle kinders te wil gee. En dit is goed. Maar soms verwar ons “die beste” met “my ma se beste”, “my vriendin se beste” of “Cotton On se beste”. Ons probeer so hard om ons te pas teen ander se beste dat ons onsself in die proses kromtrek. Tot ons nie meer weet hoe ons veronderstel is om te lyk nie.

Ja – as jou kind vanaand honger en op ‘n vuil matras in die hoek van die kamer lê, terwyl jy heroïene in jou arm spuit – Staan op, gooi weg daai goed en gaan kyk na jou kind. En as jy jou kind seermaak – om hemelsnaam gaan sien iemand.

Maar as jou hartseer is oor die feit dat jy vandag jou kind by die skool gaan aflaai het al is jy by die huis, net sodat jy bietjie mens kan voel – stop! As jou skuldgevoel vanaand is omdat jy dit verloor het nadat jy gisteraand net drie ure geslaap het en jou kleuter met badtyd jou hele koskas op die vloer uitgooi – stop! Of dalk is jou hartseer omdat jy vanaand weer alleen na die kinders gekyk het en jy hulle baked beans en toast gegee het want jy kon.net.nie.nog.een.aand.baklei.oor.broccoli.nie – stop.

Stop net. Want weet jy wat: jy gaan nooit daar uitkom nie, want dis nie hoe die Liewe Vader jou gemaak het nie. Ek se nie wees lui en voer jou kinders cereal elke aand en laat hulle op die banke rondspring nie want dan gaan hulle siek word en onpopuler wees en jy wil nie dit he nie.

Maar ek probeer se: wees vir ‘n slag so gaaf met jouself as wat jy met hulle en ander is. Vergewe jouself soos jy ‘n ander sou vergewe as hulle by jou kom bieg dat hulle ‘n fout gemaak het en hulle sukkel vandag.

En as jou kinders nie vanaand op ‘n vuil matras le in die hoek van die kamer nie en jy het hulle nie by ‘n vreemdeling gelos vir die naweek dat jy kan gaan dobbel nie en jy laat hulle nie kaal in die reen speel terwyl jy in die huis ‘n middagslapie vang nie- dan is jy okei. Lag maar, maar ek wil he jy moet weet- jy is okei. Dit wat jy doen is genoeg. Jy is genoeg.

Want die Here weet Hy het in jou kinders ‘n resep gesit en in jou die bestanddele om in daai kinders in te voed sodat hulle sal wees dit wat Hy beplan het. Sy beste. En ja, sit jy per ongeluk botter in, in plaas van naeltjies (of ‘n middagslapie vir julle altwee in plaas daarvan dat jy Beef Wellington voorsit) sal Hy seker maak dat Sy kind uitkom soos Hy beplan het. Die Here het nie kleinkinders nie. Hulle was Syne laaank voor hulle ooit joune was.

So vanaand as hulle slaap, gaan sak op jou knieë en vra Hom om jou wysheid te gee en geduld en selfbeheersing en liefde en genade. En vra Hom om dit wat jy tekort skiet vir hulle voor te skiet. En om hulle te beskerm terwyl jy leer om die beste ma vir hulle te wees wat jy alleen kan wees. Gee vir hulle vitamiene en groentes en wiskunde-lessies, maar leer hulle bo alles van Hom en hoe lief Hy hulle het.

En as die skuldgevoel weer kom koggel – dan sê jy sommer hardop: “My kinders is aan my geleen. Die Here sal hulle leer en groot sal hulle vrede wees.” En dan voeg jy sommer by: “En EK IS GENOEG.”

Wat is die dinge wat jou skuldig laat voel? Laat hulle hieronder. Ek belowe jy is nie die enigste een nie…

Advertisements